Openbaring 13

Openbaring 13

1 En ek het 'n dier uit die see (see van mense of 'n magdom van mense ) sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe 'n naam van godslastering. (Sien die beskrywing in Openbaring 12.) 2 En die dier wat ek gesien het, was soos 'n luiperd,(Sal kenmerke van die ou Griekse ryk hê Miskien 'n jong dinamiese leier, want Alexander die grote was baie jonk toe hy die wêreld oorgeneem het.) en sy pote soos dié van 'n beer,(Sal kenmerke van die ou Medopersiese ryk hê ) en sy bek soos die bek van 'n leeu; (Sal kenmerke van die ou Babiloniese ryk hê, dalk ook baie rykdom soos in die Babiloniese ryk.)en die draak (Satan) het hom (die antichris) sy krag gegee en sy troon en groot mag.(Satan sal al sy krag in die antichris belê ) 3 En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, (Let op dat dit slegs een van die koppe is wat gewond is en nie die draak nie. In Openbaring 17:8 sal ons sien dat die gevalle engel wat Alexander die grote gehelp het weer uit die bodemlose put gelaat sal word. Terwyl die gevalle engel toe gesluit was het dit gelyk of die draak se een kop gewond was. Wanneer hierdie engel vrygelaat word, word die draak se kop weer gesond.) en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. (As gevolg van sy krag en vermoeë om probleme op te los.) 4 En hulle het die draak (Satan) aanbid wat die dier (antichris) mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? 5 En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde (Hy sal baie glad met sy mond wees en mense bedrieg en verlei. ) en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande (3½ jaar, die laaste helfte van die sewe jaar verdrukking.) lank te doen. 6 En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel (Volgens Daniël 9:27 sal die antichrus homself verheerlik deur 'n standbeeld van homself in die tempel op te rig en vereis dat almal dit aanbid.) en die wat in die hemel woon, te laster. 7 Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges (Jode en nuwe bekeerlinge tydens die verdrukking.) en hulle te oorwin, (Hulle sal nie in die verdrukking beskerm word soos sommige Dominasie glo nie) en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.(Satan sal die nuwe christene en Jode vervolg en om die lewe bring omdat hulle sal weier om die standbeeld te aanbid, net soos Daniël en sy vriende) 8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. 9 As iemand 'n oor het, laat hom hoor.(Johannes gee hier 'n waarskuwing - Almal moet weet wat gaan gebeur en hoe erg die vervolging sal wees.) 10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.(As jy in God glo sal jy die ewige lewe beërwe en daarom maak dit nie saak of jy as gevangene aangehou word of doodgemaak word nie. Wat moet gebeur sal gebeur! )

Die dier wat uit die aarde opkom.

11 En uit die aarde het ek 'n ander dier (Dit is 'n ander dier. Die Griekse woord wat hier gebruik word is ALLOS wat beteken 'n ander een, maar van die selfde soort.) sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam (Hy sal hom voordoen as 'n groot kerklike leier, maar die lam het twee horings (hy lyk en praat soos Jesus, maar is nie Jesus nie) Die ware lam in Openbaring 5:6 het sewe horings gehad, die ware Jesus. Wees waaksaam teen die valse twee horings.) en het gepraat soos 'n draak. (Hierdie is die valse profeet. Hy sal probeer om die Heilige Gees op aarde te vervang.) 12 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak (dwing) dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid,(Die valse profeet sal wetgewing daar stel sodat almal die Antichris aanbid.) waarvan die dodelike wond genees is. (Die gevalle engel of satanistiese prins is nou losgelaat en hy sal ook al sy krag in die antichrus plaas.) 13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde (Hy sal baie groot en kragtige wonderwerke doen en baie mense bedrieg.) voor die oë van die mense. 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, (hy kan slegs hierdie dinge in die teenwoordigheid van die antichris doen) deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 15 En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee,(Dit kan 'n hologram wees, of hulle is tans besig om mens en rekenaar met mekaar te verenig. Dit kan dalk een van hierdie bioniese mense wees.) sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.(Die vals profeet sal dit implementeer en afdwing.) 16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op (die meer korekte woord sou in wees) hulle voorhoofde gegee word;(Hier word verwys na 'n mikroskyfie wat in jou ingeplant sal word. Dit is die merk van die dier. ) 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk (A) of die naam (B) van die dier of die getal (C) van sy naam het. 18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken,(In die Griekse en Hebreuse alfabet is daar nie aparte syfers nie. Elke letter het ook 'n numeriese waarde. Met ander woorde die naam van die antichris sal 'n numeriese waarde van 666 hê.) want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

volgende hoofstuk
indeks
vorige hoofstuk

Kopiereg van die Bybelteks © Bybelgenootskap van Suid Afrika 1953