Openbaring 16

Openbaring 16

1 En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. (Dit sal letterlike plae wees en niemand in die hemel, met ander woorde geen geredde siel, sal in die Tempel toegelaat word alvorens die sewe skale op aarde voltrek is nie.) 2 Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. 3 En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. 4 En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. Die sewe skale\plae 5 En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; 6 want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. (God word verheerlik oor Hy altyd regverdig is. Daar was baie waarskuwings dat Hy die aarde en die bose mense sal verwoes.) 7 En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. 8 En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.(Hier is die volgende versteekte Manora, die son, ons bron van lig is die punt van fokus en dit is die vierde skaal. In die middel van die skale.) 9 En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. (En nog steeds wou die mense nie luister en hulle bekeer nie. Hulle het eerder teen God gelaster. Satan het hulle "blind en doof" gemaak.) 10 En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon (Dit sal die Midde Ooste, Europa en Noord Afrika wees.) van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; 11 en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. 12 En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word. (Die Konings van die ooste sal saam met die antichris skaar teen Israel.) 13 En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet (Dit is die onheilige trio. Hulle staan teen die drie eenheid van God.) drie onreine geeste soos paddas sien kom. 14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God. (Die slag van Armageddon.) 15 Kyk, Ek kom soos 'n dief. (Dit verwys na Jesus se wederkoms.) Salig is hy wat waak en sy klere bewaar,(In die Bybelse tyd het hulle die wagte wat gelaap het terwyl hulle moes wag hou se klere gesteel of verbrand om hulle te verneder.) sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. 16 En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon. (Die versamel plek van die leërs van die volke wat teen Israel opruk.) 17 En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!(Die teken dat al die gruwelikheid nou tot 'n einde gekom het.) 18 En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so 'n geweldige groot aardbewing.(Dit is dieselfde aardbewing waarvan daar in Openbaring 11:13 gepraat word.) 19 En die groot stad (Jerusalem) is in drie dele verdeel, (Jerusalem het drie valeie wat deel vorm van die stad. Hulle is in die vorm van die Hebreeuse letter shin - s. Dit is die "Kedron" valei. die "Tyropoeo valei" en die "Hinom valei". Die shin beteken krag en die Jode gebruik dit om hulle te herinner aan "Shaddai" - God se se naam vir krag en voorsiening. Jerusalem sal langs hierdie 3 valeie in drie gedeel word.) en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. 20 En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; 21 en groot hael, omtrent 'n talent swaar, (Die gewig van 'n talent is ongeveer 50 kg.) het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.

volgende hoofstuk
indeks
vorige hoofstuk

Kopiereg van die Bybelteks © Bybelgenootskap van Suid Afrika 1953