Openbaring 19

Openbaring 19

Val van Babilon. Vreugde en
oorwinningslied in die hemel.

1 En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! (Hier word verwys na dinge wat in die hemel gebeur net voor die wederkoms. Blye stemme wat die Here verheerlik.) 2 Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. 3 En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid. 4 En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja! 5 En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte,(Geen een is kwytgeskeld daarvan om God te prys nie.) en julle wat Hom vrees, klein en groot! 6 En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.(Dit is die vervulling van die "Onse Vader" gebed. Laat U wil geskied op aarde net soos in die hemel. Dit is ook die vervulling van Daniël 2:34 die klip wat nie met die hand uitgekap is nie wat die beeld se tone vernietig.) 7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou (Nie die bruid nie, maar die vrou. Dit verwys na die nuwe Jerusalem.) het haar gereed gemaak. 8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. 9 Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. 10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.

Oorwinning van Christus oor die dier
en die valse profeet.


Die Koning van die konings en Here van die leerskare 11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy (Hier word van Jesus gepraat. Tot aan die einde van vers 13 is 'n beskrywing van Jesus.) wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog (Slag van Armageddon) in geregtigheid. 12 En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n (1) Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, (In die Bybelse tyd was dit die gebruik om iemand te begrawe met sy bloed besmette klere as hy vermoor of gedood is. Die rede hiervoor was dat met die opstanding sal dit tot sy getuienis wees dat hy vermoor is want sy klere is met bloed bevlek. Dieselfde met Jesus - Hy is deur die Jode vewerp en hulle wou Hom nie as die Messias aanvaar nie, en daarom het hulle Hom laat kruisig. Dit is die rede hoekom sy kleed in bloed gdoop sal wees.) en sy Naam is: (2) Die Woord van God. 14 En die leërs (Al die regverdiges in die hemel - die engele, die weggeraaptes en die wat uit die dode opgewek is.) in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap (Die slag van Armageddon aan die einde van die 7 jaar verdrukking en die begin van die 1000 jaar vrederyk.) die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: (3) Die Koning van die konings en (4) die Here van die here. (Die joodse gebeds mantel of Tallied het vier tossels, een op elke punt. Elkeen van hierdie 4 tossels verteenwoordig een van hierdie 4 name.) Die vals profeet en die antichris word in die poel van vuur gewerp. 17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19 En ek het die dier (Die antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees

volgende hoofstuk
indeks
vorige hoofstuk

Kopiereg van die Bybelteks © Bybelgenootskap van Suid Afrika 1953